Tuesday, April 17, 2007

Wolraad Woltemade

Die verhaal van Wolraad Woltemade is waarskynlik ook die verhaal van ons land se eerste heldedaad.
Hierdie gebeurtenis het plaasgevind 120 jaar na die stigting van die verversingstasie aan die Kaap. Die Kaap wat toe reeds bekend gestaan het as "Die Kaap van Storms" . . . .
De Jonge Thomas, 'n Oos-Indiese skip, het op Sondag, 30 Mei 1773 in 'n hewige storm beland in Tafelbaai. Vir 'n dag en 'n nag het die storm in woede toegeneem, sodat die ankertoue later een vir een gebreek het.
Vir die 207 man aan boord was dit asof die einde aangebreek het. Vreesbevange het hulle gebid om redding en uitkoms . . . .
Doelloos het die skippie rondgeslinger tussen die verwoede golwe, totdat dit naderhand op 'n sandbank vasgespoel het.
Die kaptein en die meeste van die skip se bemanningslede kon niks anders doen as om hulpeloos aan die wrak te klou, en om om hulp te roep nie.
Nuuskieriges het saamgedrom en Goewerneur van Plettenberg het onmiddelik 'n dertigtal soldate - nie om die matrose te red nie, maar om die skeepswrak te bewaak - gestuur. Onder hierdie soldate was dan ook 'n man genaamd Christian Ludwig Woltemade.
Christian Ludwig Woltemade se bejaarde vader van tussen 60 en 70 jaar oud, het dan ook vir sy seun kos gebring. Die vader, Wolraad Woltemade het gesien dat niemand eens 'n poging aanwend om die bemanningslede te red nie.
So het hy dan met sy moedige perd die see ingeswem om die mense se lewens te red. Sewe maal het hy die branders ingery met sy perd, om elke keer 2 mense se lewens te red. Die agtste maal het van die matrose histeries geraak, en het almal aan hom en sy perd geklou.
Dit was te veel vir die reeds uitgeputte Wolraad. So het hy en sy perd dan ook onder die golwe van die Kaapse kus verdwyn. . . . . . . .